Die meeste van ons het ’n manier om soms die lewe vir ons onnodig ingewikkeld te maak.
Hoekom ons dit doen, is eintlik nou nie altyd maklik om te verstaan nie.
Al wat ons moet sê, is dat dit meestal onnodig is.
Ons neem besluite wat ons nie moet neem nie, ons volg keuses wat ons nie moet volg nie, ons begewe ons in situasies wat nie nodig is nie, en ons vat onnodig lank om vir onsself rigting en duidelikheid in baie dinge te kry.
Waarskynlik maar omdat ons mens is.
Gering en onseker.
Dalk omdat ons nie al die antwoorde het nie.
Miskien maak ons dinge moeilik juis omdat ons dit moeilik wil maak.
Daar is ongetwyfeld waarde daarin om die lewe so ’n bietjie meer deur die oë van kinders te hanteer.
Ek het dit die afgelope week weer besef toe ek by ’n kleuterskool sit en waarneem hoe hulle in eenvoud na die lewe kyk.
Hulle neem eenvoudige besluite en hanteer die situasie voor hulle in eenvoud.
Wanneer ons ouer word, bevind ons onsself te dikwels in situasies wat ons makliker sou kon maak en in meer eenvoud sou kon leer bestuur.
Die lewe het sy opdraandes en uitdagings; ons moet wel aanleer om dit nie onnodig moeilik te maak nie.
Ons moenie probleem op probleem soek nie, en allermins moet ons vir onsself moeilike situasies skep.
Daar is waarde daarin om die mooi en die eenvoud van die lewe te sien, te leef en te ervaar.

