Aan die wonder van taal en die krag van woorde en die betekenis van goed gebruikte woorde kan niemand twyfel nie.
Om jou woorde te kies en betekenisvol te gebruik is kosbaar en kragtig.
Deur die jare, en namate ek ouer word, besef ek egter al hoe meer dat jy ook in situasies kom en by mense sit en langs siekbeddens en sterfbeddens waar daar nie woorde is nie.
Dit is die klein seuntjie wat by sy ma se graf gestaan het wat my dit die sterkste laat besef het.
Ek het hom gevra, sê wat jy voel – en hy antwoord so opreg: “My sê is klaar.”
Daar kom tye in ’n mens se lewe dat ’n mens se woorde klaar is.
Soms het ’n mens vreugdes wat te groot is vir woorde.
Soms is liefde te groot vir woorde.
Soms is seer te veel vir woorde.
Daar kom tye dat ’n mens nie kan praat nie, omdat die woorde klaar is of te min is.
Nie omdat woorde nie belangrik is nie, nie omdat ’n mens nie woorde waardeer nie, maar omdat die seer net te seer kan wees of die bang te bang of die vreugde te groot.
Dit is daardie tye dat ’n mens moet leer om te luister na die woorde wat nie woorde is nie en die dinge wat gesê word sonder dat daar woorde is.
Nie alles wat gesê word, het woorde nodig nie.

