Toe word Oupa siek, skielik en teen alle verwagting in.
Die een oomblik nog perdfris en gesond en die volgende oomblik verswak en soekend na asem in die kardiologiese hoësorgeenheid.
Dit is nogal ’n skok en onverwagse verandering in beplanning.
Só beleef so baie mense dit daagliks. Hierdie onverwagse.
Maar wanneer ’n mens daar is, dan moet jy swem, ongeag die konteks.
Dit is die deernis in so ’n hospitaal-episode wat my aan die hart gryp. Werklik engele in mense wat net van alle kante oor ’n mens se pad kom.
’n Oproep, ’n daad, omgee, ’n iets. Wanneer mense wil help en opreg help, maak dit ’n mens se opdraandes soveel makliker.
Hierdie week ervaar ’n mens dit maar net weer intens, hier waar ons so in die hospitaal sit.
Tyd gaan staan mos so ’n bietjie stil hier.
Die mense wat langs jou sit in ’n anderster nag of twee word vriende, al sien jy hulle nooit weer nie.
Daar word met mekaar gesels, ’n mens praat mekaar moed in; die wagtyd word verkort. Een bring vir ’n ander koffie, ’n ander een gaan kry vir almal iets om te eet.
Wanneer een huil, is daar sneesdoekies van alle kante. Een gaan betaal ’n ander se parkeerkaartjie.
’n Ander vra om net om die hoek ’n bietjie te slaap en geroep te word met nuus.
Só dra mense mekaar.
Mag ons nooit hierdie egtheid van menswees onder mekaar verloor nie.
Dra gerus mekaar se laste. Dit maak die vrag ligter.

