Hier so met die wegspring van die jaar is dit darem vir my baie duidelik dat ek die nuwe jaar nie met ’n kantoor met oorvol laaie kan ingaan nie.
Ek moet maar ’n dag of twee afvat en vyf jaar se laaie deurwerk.
So gedink, so gedoen.
Dit is nie so maklik nie.
Ek word met die waarheid van tyd gekonfronteer.
Tyd staan nie stil nie.
Ek neem my voor om in hierdie jaar my tyd sinvol te probeer gebruik in alles wat ek doen.
Dit is vir my baie duidelik hoe ’n mens droom, beplan, doen en dan is dit verby.
En skielik is ’n mens vyf jaar ouer.
Ek word ook met die waarheid van prioriteite gekonfronteer.
As ek nou na van die dinge waarmee ’n mens jou moeg gemaak het kyk, besef ek terwyl ek deur hierdie laai werk hoe dikwels ons onsself moeg maak met dinge wat werklik net verbygaan.
Ek neem my voor om so te prioritiseer dat ek my nie moeg maak met dinge wat net kosbare tyd opneem nie.
Ek word met die rykdom van menswees gekonfronteer.
Dit klink simpel, maar ’n mens bêre in jou laaie vreemde goed.
Stukkies onthou, stukkies sentiment, stukkies stories.
Jy word herinner aan mense en plekke, gebeure en oomblikke.
Ek neem my voor om meer hiervan te bêre.
Daardie dinge wat ek wil onthou.
So gaan ek met skoon laaie ’n nuwe jaar binne.
Ook sommer ’n skoon gemoed.
Tyd, prioriteite en stukkies onthou.
Ek sien uit na 2023.

