Twyfelhoekie: Kronkels hoef nie vrede te knak

Die wysheid wat saam met die grysheid kom, het my al meer as een keer verbaas.


Die wysheid wat saam met die grysheid kom, het my al meer as een keer verbaas.

Daarom sit ek so graag by ons bejaardes en luister.

’n Mens hoef nie altyd te praat nie. Jy kan maar net luister en leer.

Daarby kom ervaring van die hantering van uitdagings – en oplossings waaraan ons jonger geslag nooit eens sou dink nie.

Hulle is ook taai deur die lewe gebrei. Hulle het al swaargekry.

Alles wat is, was mos reeds.

Hulle onthou van seer en droogtes, van beproewings en swaarkry en hoe dit hanteer is.

Daar is beslis wysheid in die grysheid.

So beleef ek dit onlangs weer toe ek by Ou Oom sit.

Hy praat.

Ek luister net.

Ons gesprek begin met die Covid-19-pandemie van die afgelope twee jaar.

Hy vertel van wat hy van plaas se dae onthou. Siektes en tye wat moeilik was. Antwoorde wat daar nie is nie.

Dan praat hy lank met my oor die vrede in ’n mens; die vrede om ’n mens.

Hy sê vrede is belangrik vir elkeen van ons.

Tog kom daar nou en dan dinge wat ’n mens se vrede ’n bietjie laat knak.

’n Mens moenie toelaat dat dit jou vrede versteur nie.

Hoewel daar kronkelpaadjies in jou vrede kom, is vrede soos ’n rivier. Dit bring rustigheid ondanks die kronkels.

Sy beeld is so mooi.

Moenie toelaat dat iets of iemand jou vrede laat knak nie.

You need to be Logged In to leave a comment.