“Pappa reken.” En met hierdie twee woorde ontnugter Laatlam my hele naïwiteit en positiewe bedoelings en poging tot positief wees.
As dit nie so waar was nie, sou die hele gebeurtenis wat hier afspeel seker snaaks gewees het. Ons sit in pikdonkerte.
Weer. Suid-Afrika se bekende energiekrisis maak ook nes in ons huishouding. Alles staan, alles wag, alles word uitgestel.
Daarom vertel ek maar met hoop en vooruitsig van die berig wat ek pas gelees het dat beurtkrag darem einde se kant toe staan.
Ek is seker die groter kinders het in die donker gegrynslag, al het hulle niks gesê nie.
Laatlam Kleinsus is egter eerliker as dit. Sy antwoord my sommer klinkklaar met kinderlike opregtheid.
Pappa reken. Mmm… en die wind is uit my seile.
Soms is daar ’n verskil tussen positief wees en die waarheid ontken.
Dit is sekerlik ook oneerlik om vas te hou aan ’n valse hoop.
Kleinsus se lewensles is eenvoudig. Werk met die slegte, werk om dit en maak planne. Alles hoef nie weg te gaan voor iets beter gaan nie.
Haar argument oortuig my. Daar kom tye dat die slegte nie weggaan nie, maar jy met die slegte werk en antwoorde soek in die swaar.
Jy soek oplossings, natuurlik ja. Jy soek ’n uitkoms. Maar soms moet jy die gegewe eerlik in die oë kyk en dan daarvandaan werk.
Haar antwoord is eenvoudig. Beurtkrag gaan nie weggaan nie. Ons moet beter planne maak, en ander planne.
Ontkenning gaan nie help nie. Haar kinderlike eerlikheid gee my hoop.

