Dit gebeur van tyd tot tyd wanneer ’n mens met iemand gesels dat hulle ’n ding op ’n vreemde manier sê, wat tog so waar is en tog ’n bietjie oordenking vra.

So ’n sin kry ek toe ek met hierdie jong vrou sit en gesels oor ’n klompie goed wat in haar lewe gebeur het.

Dit is mos so dat ’n mens nie altyd iemand anders se leefwêreld ken nie, nie altyd weet wat ’n ander deurmaak nie en nie altyd weet hoe iemand anders iets sien nie.

In elk geval, ná haar tyd van trauma en beproewing, uitdagings en goed wat gebeur het wat eintlik aan belaglik erg grens, kom sy tot die slotsom: “Een persoon kan ’n omgewing met naarheid infiltreer.”

Eers was die sin vir my vreemd en ek moes ’n keer of wat daaraan kou, maar namate ’n mens dit oordink, verstaan ’n mens presies wat sy hiermee bedoel.

Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar.

Iemand kan in ’n geselskap inkom, of in ’n werksomgewing, of deel van ’n vriendekring wees en só ’n reuse- positiewe verskil maak.

Of iemand kan doodgewoon net ’n naarheid nalaat.

Dit skep daardie soort situasie waarin niemand goed voel nie, almal sleg voel en so ’n iemand dikwels net nonchalant voortgaan.

Ek besef net weer hoe fyn ons moet let op wie ons is en hoe ons optree; en wat ons sê wanneer ons tussen ander mense is.

Mag ons tog nie ’n omgewing met naarheid infiltreer nie.

Mag ons teenwoordigheid vreugde bring.

Waar ons ook al is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article