Is dit nie ironies hoe ons veg en stoei en skerm vir ons eie naam nie.

Dit is ook reg so.

Die ou mense het mos juis vir ons geleer as jy jou naam verloor, verloor jy alles.

Tog vergeet ons soms so maklik dat daar ’n dieper, geestelike betekenis is in ons naam wat opgeskryf is.

Ons kan so fanaties baklei vir ons eie naam en so fanaties dit verdedig.

Ons vergeet soms dat ons naam nie meer werd is as die persoon langs ons s’n nie.

Natuurlik is elke mens se naam vir hom of haar baie werd. Almal wil hê ons naam moet gerespekteer en geëer word. Almal wil hê ons naam moet hoog geag word.

Ja, ons almal maak foute wat ons naam voor ander mense raak.

En ons almal weet dat ons in ons gebrokenheid ons eie naam en eie reputasie so maklik skade aandoen. Vir elke mens op hierdie aarde is dit tog belangrik dat ’n goeie naam jou vooruit loop, ongeag ons verkeerde keuses en besluite en optredes.

Juis daarom moet ons so mooi dink as ons ander se naam te nakom. Dit afbreek.

Die naam van ’n ander is in ons hand en in ons mond. Hoe ons daarmee handel sê meer van wie onsself is as van ’n ander.

Ons moet dikwels bloos vir onsself, vir wie ons is, vir hoe ons optree.

En presies om daardie rede is dit so vertroostend om te weet jou naam is opgeskrywe.

In ’n ewige boek. Al verdien jy dit nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article