So het dit tyd geword vir Ousus se troue.
Aanvanklik was dit ’n vae gedagte. Dan begin dit naderkom en alles begin gelyk gebeur.
Ma en Pa raak senuweeagtig, Ouboet begin grom, Kleinsus geniet elke sekonde en Middelsus is so besig dat sy nie haar draai kry nie (al kan ek nie eintlik agterkom wat sy alles doen nie).
In kort: Duidelik is dit ’n reuse-ding dié.
Tog is dit ’n wonderlike voorreg.
Terwyl ek Ousus en Amper-Skoonseun dophou, besef ek net al hoe meer die wonder van die lewe.
Hoe jongmense mekaar ontmoet, liefkry, lewens deel, keuses maak – ondanks Covid-19, oorloë, ekonomiese vraagstukke en wat nog alles.
Jongmense is draers van hoop. Hulle is vol geesdrif en laat hulle nie maklik onderkry nie.
As ek na Ousus en Amper-Skoonseun kyk, sien ek weer hoe mooi die liefde is. Hoe heerlik om met iemand te kan deel, te wil deel. Saam ’n pad te wil loop.
Ek weet, nugter genoeg, die lewe gaan hulle ook soms omgooi en uitdaag.
Elke dag gaan nie maklik wees nie.
Hulle gaan mekaar oor en weer seermaak en teleurstel en te na kom.
Maar ek wens hulle toe dat die liefde altyd sal wen. Dat hulle gelukkig sal wees. Dat hulle dit wat hulle nou deel, nooit sal verloor nie.
Hulle is maatjies. Hulle deel, hulle gesels, hulle het lief.
Deur hul liefde sien ’n mens die mooi van die lewe.
Inderdaad, liefde maak die lewe mooi.