‘n Mens se ingesteldheid bepaal darem baie hoe ‘n mens iets hanteer en hoe ‘n mens die uitdagings om jou bemeester.
Oupa Plaas kry drie keer ‘n week dialise – elke Maandag, elke Woensdag en elke Vrydag. Van sesuur tot tienuur die oggend.
Dit is gewoon die pakkie wat hy nou moet dra en gewoond aan moet raak. Nou draai die seisoen.
Dit word later lig en die Vrystaat-luggie knyp maar so ‘n bietjie in die oggende.
Ek vra vir hom is dit nie nou moeiliker om op te staan en die koue aan te durf nie. Dit is immers maar ontwrigtend.
Dit is darem kwaai: vroegoggend uit die bed, die koue aandurf, en dan daar gaan lê vir die proses.
Maar nee wat, sy hart is reg, sy kop is reg, hy hanteer hierdie soort ding met grasie.
Hy antwoord sonder om te dink: Die somer is langer as die winter.
So ja, natuurlik is dit nou koud en donker en vroeg opstaan is nie so lekker nie. Maar die somer is langer as die winter.
Die winter kan koud en donker wees, maar die somer kom en dan is alles weer makliker. Vir hom is dit dialise wat hy met ‘n positiewe ingesteldheid moet benader. Hy het nie ‘n keuse nie. Sy manier van dink, maak die pakkie wat hy dra wel ligter.
Almal van ons stoei met so baie dinge. Daar is soveel verskillende uitdagings, soveel dinge wat ons wil oorweldig.
Ons kan maar by Oupa Plaas leer. Kry jou kop reg, kry jou denke reg, fokus op die positiewe.
Jou ingesteldheid maak moeilike tye makliker.
Jy hoef nie. Jy kan kies om te fokus op die donker, op dit waaroor jy wil en kan kla, en jy kan oor en oor fokus op dinge wat jou aftrek.
Of jy kan kies om te sê die somer is langer as die winter.


