Uit ’n mens se studiejare onthou ’n mens dikwels baie skerts en lag, baie pret en die lekker van jongmens wees.
’n Mens onthou ook uit daardie dae die onopvallende, dog onvergeetlike, mense wat ’n onomkeerbare invloed op ’n mens gehad het en ’n mens gevorm en gebou het.
Mooi nostalgie.
Juis oor een van hulle het ek hierdie week weer so ’n bietjie kon nadink.
Hy was waarskynlik nie die beste orator van al ons dosente nie.
Hy sou vir seker nie ’n prys kry vir kreatiwiteit nie, en dit was maar soms moeisaam om ’n hele sessie saam met hom deur te werk.
Tog het sy opregtheid en sy eerlikheid ons as studente aangegryp.
Vir my was sy mooi, eerlike en oop menswees indrukwekkend.
Hy kon rustig voor die klas gaan staan, ’n wysheid aanhaal en dan ’n uur lank kalm daaroor gesels.
Netso.
Op een so ’n dag het hy in die klas gaan staan en ’n enkele sinnetjie gesê: “Julle moet onthou daar is geskryf ‘ ’n regte woord op ’n regte tyd is soos salf vir wonde.’ ”
Die res van die uur lank het hy op sy kenmerkende kalm wyse daarop uitgebrei.
Wat hy gesê het, het ek in die jare daarna oor en oor beleef.
’n Regte woord op die regte tyd is soos salf vir die wonde.
Ons almal benodig soms daardie regte woord op die regte tyd.
Ons kan maar almal leer om die regte woord op die regte tyd te gebruik: Dit is salf vir die wonde.

