Soms moet ’n mens aanhou met ’n ding.
En soms moet jy ophou met iets.
’n Mens moet veral ophou wanneer iemand dit duidelik maak dat hy of sy seerkry daardeur.
Hoekom aanhou met ’n ding wat jy weet ’n ander seermaak?
Dit is die vraag waarmee ek op ’n stadium uitgedaag word in ’n gesprek met iemand.
Om te sê: Ek sal aanhou. As jy weet jy kom iemand te na, of maak iemand seer, of is nie nou reg nie, dan is dit groot en volwasse om soms net ’n tree terug te staan en te sê: Dit is nie nou vir my belangrik genoeg nie.
Hoekom? Want ons is wakers van mekaar se gemoed.
As iemand duidelik te kenne gee dat hy of sy seerkry met bepaalde woorde, bepaalde gedrag, bepaalde optrede – hoekom dan besluit om nie daarmee te stop nie?
Ons kan so lief wees vir onsself, ons gedagtes en ons optrede dat ons heel selfsugtig dikwels nie omgee as ons iemand te na kom nie.
Hou aan met die positiewe. Dit wat bou en wat goed is, wat mooi is en sag is, dit wat vrede bring en liefde uitstraal.
Hou op met dit wat onnodig seermaak. Dit wat beproef, dit wat sny deur die siel van ’n ander en dit wat emosionele snellers na vore bring wat onnodige pyn veroorsaak.
As jy aanhou, hou aan om goed te doen.
As jy ophou, hou op met die slegte. Moenie aanhou met die negatiewe nie.
Bou, moenie breek nie.

