Soms wens ’n mens net jy kan iemand se hart vashou en beter maak van al die seer wat daarin is.

Maar ’n mens kan nie, ’n mens kan maar net omgee met die hoop dat dit beter word.

Tyd laat darem wonde toegroei, al bring dit nie al die antwoorde nie.

Dit was ’n klein meisie wat die gevoel vir my beskryf het dat niemand haar ma kon troos omdat alles in die lewe verkeerd loop nie.

Haar ma se seer was net te seer, te veel groot goed, te veel goed waarvan sy op haar vyfjarige leeftyd niks verstaan het nie.

Die lewe het haar ma verpletter, en die opstaan was moeisaam en stadig.

Die dogtertjie het haar gevoel opgesom met ’n luide uitroep van: “Oom, my ma is leeg-leeg.”

Interessant dat ek tog daarin al die seer kon hoor, al die kommer, al die moedeloosheid, al die vrae, al die onsekerheid.

Haar ma was leeg-leeg.

Die antwoorde was nie maklik nie en die toekoms nie seker nie.

Tog, as ’n mens weet iemand is leeg-leeg, weet ’n mens goedkoop antwoorde gaan nie help nie. Planne gaan nie beter maak nie.

Wat ’n mens nodig het, is ’n bietjie hoop. Die wete dat die son weer sal skyn. Die sekerheid dat antwoorde wel kom.

Haar ma het weer opgestaan, weer liefgekry, weer begin.

Sy was al ’n student toe sy vir my kom vertel het: “Mamma is nie meer leeg nie”.

Liefde het haar weer volgemaak.

You need to be Logged In to leave a comment.