Een van die vreemdste ervarings van hierdie ou wêreld bly hoe een mens ’n atmosfeer positief of negatief kan verander.
Dit bly ’n raaisel hoe ’n mens dit kan regkry dat iemand in ’n geselskap instap en daar sommer so ’n donkerte oor almal kom, en hoe iemand anders daar kan instap en die hele atmosfeer net kan draai.
Natuurlik, mense verskil van mekaar.
Tog maak ons ook keuses oor hoe ons ander beïnvloed en wat ons nalaat.
Dikwels wil mense donker wees, wil hulle donkerte bring en kies hulle ’n halfleë glas eerder as ’n halfvol ene.
Iemand verander ’n vertrek met ’n sonneblom, ’n plantjie hier en daar, en sommer net vriendelikheid.
Ander kies om gewoon nie só te wees nie.
Dan is dit ook so dat sekere mense ons sterker beïnvloed as ander.
Iemand wat na aan jou is, kan geweldig seermaak omdat hulle kies om jou nie te wil hoor nie, terwyl hulle weet jy is reg.
Vir ander maak die werklikheid van sake gewoon nie saak nie, solank hulle nie gekonfronteer hoef te word met dinge soos dit was of is nie.
En so kan ’n mens baie dink oor mense, omgewings en atmosfeer.
Die belangrikste bly seker: Wat bring jy in ’n omgewing in?
Wat verander jy in ’n geselskap?
Wat laat jy agter wanneer jy daar uitstap?
’n Mens kry gewoon mense wat jou laat sleg voel en mense wat jou laat goed voel.
Hoe laat jy mense voel?

