Twyfelhoekie: Herinneringe kom tuis met verhuising

Om op 84 wortels uit te trek is nie so maklik nie.


Om op 84 wortels uit te trek is nie so maklik nie.

Dit is waardeur Skoonmoeder die afgelope naweek moes gaan. Gesondheid en omstandig­hede het die tyd ryp gedruk.

Wanneer ’n mens inpak, huiwer ’n mens se hart.

Elke laai wat ’n mens ooptrek, elke kas wat ’n mens aanraak, vertel ’n storie.

’n Verhaal van onthou, van soms so ver soos drie geslagte terug, tye lank voor vandag se tyd.

Daar is mooi stories, daar is briefies van onthou, daar is kaartjies van mense lank oorlede, lappies gemaak deur ’n ouma-groot, foto’s waarvan die hoeke al gebuig is, ’n bak gekoop in swaarkrytyd, ’n geskenkie wat aan ou, vergane liefde herinner en meer en meer.

’n Mens besef met so ’n inpakproses die mooi verbintenis van geslagte – geslagte wat was en die jong geslagte se hoop.

Skoonmoeder haal lappies uit vir elke kleinkind en ’n horlosie uit Oupa se versameling; draai dié toe, bêre eers daardie, ander sal sy uitsorteer soos die dae wat voorlê, kom.

So word ’n lewe stukkie-stukkie weggepak, ingepak, getrek.

’n Nuwe begin lê voor.

Weer bring so ’n trek ’n mens maar net by die besef dat elke ding ’n vaste tyd het. En niks wat jy het, bly en hou vir ewig nie.

Daarom is hoe jy leef met wat jy het, so belangrik.

Geniet die gawes aan jou toevertrou, leef en lewe voluit.

Wanneer ’n nuwe begin aanbreek, wees gereed.

Ma, welkom in ons huis.

So begin nuwe herinneringe.

You need to be Logged In to leave a comment.