Hy is al redelik bejaard, maar sy handdruk wanneer hy my groet, is ferm soos dié van ‘n jong man.

Hy het spesiaal agtergebly om ‘n bietjie met my te gesels. Ek het pas ‘n lesing gegee oor hoe ons mekaar moet help, elke dag. Wat hy wil vertel, is iets wat hy belangrik ag dat ek dit moet hoor.

Ek ken dit, maar dit is lekker om dit weer te hoor. Hy vertel van sy grootwordjare in die Kalahari – ander tye as vandag.

Toe sy pa en sy oupa nog saam geboer het.

Daardie tyd was daar ook droogtes en uitdagings; maar, vertel hy, die tyd was anders. Mense het mekaar vertrou met die druk van ‘n hand.

Hy onthou hoe het bure na mekaar omgesien, met die druk van ‘n hand. Jy leen ‘n paar skape; met ‘n handdruk weet die buurman hy gaan dit terugkry. So was dit met ‘n paar sakke mielies, of enigiets.

Vertroue het op ‘n ander vlak gelê. Deesdae, vertel hy, kan jy nie eens meer iemand vertrou nie, al is die hand op papier gesit.

Dit is vir hom tragies.

Hy wonder wat het geword van integriteit, dat ons mekaar nie meer met ‘n handdruk kan vertrou nie.

Hoekom is pen op papier nie meer betroubaar nie? Wat het gebeur? Hoekom het ons só geword?

Ek kan hom nie rêrig antwoord nie. Sy gesprek is bo my begrip. Ek hoor hom wel. Daar is integriteit in ‘n eerlike man se handdruk. Só het hy grootgeword.

‘n Handdruk is ferm. Dit groet en bevestig. Jy moet dit kan vertrou. As ons mekaar nie meer in die oë kan kyk en vertrou nie, het die ou wêreld ‘n slegte plek geword.

Hy groet my. Met ‘n handdruk.

Hy wou my maar net gou vertel. Daar was ‘n tyd dat ‘n mens met ‘n handdruk kon besigheid doen. Hy verlang daarna.

Ons moet vertroue tussen mense terugkry.

Lees nog rubrieke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.