Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

“Hoekom wil een mens haar wil so sterk op ‘n ander afdruk?”

Dié vraag van die tienerdogter in haar hoërskooljare spook by my. Ons gesprekke hieroor kom ‘n lang pad.

Ek wens ek kon haar antwoord. Ek kon nog nie ‘n antwoord hierop kry nie.

Sy is maar ‘n gewone tienermeisie, maar die probleem wat haar beperk en terughou, is haar ma se sterk wil.

Ek besef sy verwoord eintlik maar ‘n probleem wat ‘n mens orals raakloop.

Mense wat hul sterk wil op ander afdruk. Hoekom maak mense só?

Hoekom is dit so belangrik om jou sin te kry? Hoekom kan jy nie maar ‘n bietjie inval by ‘n ander nie?

Is dit so belangrik dat dinge gebeur soos jy wil hê dit moet gebeur, op jou manier? Die antwoord is sekerlik nee.

‘n Mens kan soms maar inval by ‘n ander, ‘n bietjie luister, ‘n bietjie terugtree. Dit is nie so belangrik dat jy altyd gehoor, altyd gesien en altyd na geluister hoef te word nie.

Die gesprek met hierdie tienermeisie was uiteraard baie jare gelede, maar steeds bly haar seer my by.

Sy moes voortdurend inval by iemand anders se wil.

Wat dit vir haar erger gemaak het, is dat sy meestal nie omgee nie, meeste van die kere was sy gemaklik daarmee.

Maar soms, ja, soms, wil ‘n mens jou eie mens wees en jou eie ding doen op jou eie manier. Daar kom tye dat dit nie vir enigeen lekker is as iemand se wil op hulle afgedruk word nie.

In praktyk beteken dit gewoonlik ook maar dat so iemand mense wegstoot in plaas van nader trek, gesag verloor in plaas van wen en swakker af is, eerder as beter.

Die lank en die kort is: Wees maar versigtig om jou wil altyd op iemand af te dwing. Dit is vir niemand lekker nie en niemand wen daaruit nie.

You need to be Logged In to leave a comment.