“Verskillende dinge is vir verskillende mense belangrik.”
Só het ek die tannie in die kombuis met ma hoor gesels.
Ons kinders het nie juis sit en tande tel in die geselskap nie en het ons met ons eie dinge besig gehou. Dié dag was ek siek, en het ek in die woonkamer langs die kombuis gelê. Dit was naweek; my kleinboet en die kuier-kinders het sit en TV-speletjies speel en die bure het gekuier en gebraai.
Verlede Saterdag het ek die tannie begrawe. Eintlik jonk oorlede, maar siekte vra nie ouderdom nie.
So op pad na haar begrafnis onthou ek die dag in die kombuis. Ma en sy het gesels oor hoe besig kinders in ‘n huishouding kan wees. Self het hulle vier kinders gehad. Elkeen anders van karakter.
Ek kon hoor hoe ma en sy gesels oor die verskille tussen mense en hoe mense dinge verskillend beleef en hoe verskillende dinge vir verskillende mense belangrik is.
Ek moes eers ouer word om te verstaan. Almal hoef nie soos jy te wees nie. Almal hoef nie te dink soos jy dink nie. Almal hoef nie te hou van dit waarvan jy hou nie. Almal hoef nie te rus soos jy nie, almal hoef nie te werk soos jy nie, almal hoef nie te praat soos jy nie. Almal hoef nie dieselfde stokperdjies te hê nie.
Ons mag maar verskil. Ons mag maar anders wees. Jy mag maar jy wees.
Daar sal soveel minder konflik in hierdie ou wêreld wees as ons mekaar so ‘n bietjie ruimte wil gun, so ‘n bietjie wil laat wees, so ‘n bietjie laat leef. Konflik oor beginsels, geloof, wesenlike sake is een ding, maar dikwels word ons daarin vasgevang dat ons eintlik maar wil hê mense moet soos ons wees.
Daarom moet ‘n mens leer om jou konflik te sif. Alles is nie ewe belangrik nie.


