Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

‘n Gekonkel help net mooi niemand niks. Ons vergeet dit so maklik. Dit is maar beter om die eerliker, langer, moeiliker en dikwels meer onseker pad te loop as om te konkel.

‘n Mens se gebrokenheid en nietigheid veroorsaak dat ‘n mens soms maklik die afdraaipaaie vat en die reguit pad wil systap.

Die probleem is: ‘n Gekonkel kan dikwels so maklik regverdig word; kan so goed verbloem word en is so beredeneerbaar; tog bring dit maar altyd ‘n valse gevoel van oorwinning en laat dit ‘n bitter smaak in die mond.

Die probleem is eenvoudig: ‘n Gekonkel veroorsaak onreg en benadeel mense. Daardie onreg sny diep en maak seer; en dít lê diep.

Uit my grootwordgemeente in Petrusburg, waar ek nog die voorreg gehad het van grootword voor ‘n regte stoere groep Dopper-omies, kan ék ‘n paar voorbeelde onthou van hoe konkel in kerkverband hulle ontstel het.

Ek het dit later weer gesien by skole: hoe maklik mense wil konkel.

Konkel beteken eintlik dat jy nie genoeg vertroue het in die meriete van die saak − dat dit wat moet gebeur, sal gebeur − nie; dat jy jou bes doen om seker te maak wat jy wil hê moet gebeur, gebeur.

Natuurlik is dit te onderskei van waar jy strategies bestuur en beredeneerde besluite neem ter wille van mense en ‘n groter saak.

Wanneer jy skelm konkel om jou agenda te dryf, gaan dit jou feitlik altyd inhaal, iewers.

Dit kan nie anders nie − jy gaan tog nie reg op onreg bou nie. Daarom is selfondersoek vir ons almal belangrik.

Eintlik is dit maklik: Tree ek met integriteit op of nie?

As konkel nodig is om jou doel te bereik, het jy misluk. As jy eg is en jou doel bereik, was jy suksesvol.

Te maklik beleef ons die keuse van konkel, afdraai van ‘n reguit pad, ter wille van ‘n eie agenda.

Wees eg. Ter wille van jou doel.

Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.