Soos baie van my lewenswaarhede en karaktervormende eienskappe het ek een van die belangrikste lewenslesse reeds op ’n baie jong ouderdom by my geliefde ou moeder geleer.
Sy het dit die eerste keer vir my gesê toe ek baie klein was – te klein om te verstaan.
Oor die jare het sy dit weer en weer herhaal.
“Hannes, ’n mens hoef nie al die antwoorde te hê nie.”
Dit het my gefrustreer.
Juis omdat soveel dinge gebeur waarop ’n mens antwoorde wil hê.
Soveel dinge wat ’n mens nie verstaan nie.
Ek onthou hoe die perskes op die plaas pragtig aan die bome hang, net om deur ’n haelstorm vernietig te word. ’n Hele seisoen se oes in ’n paar minute weg.
Ek onthou dag ná dag van die reën wat net nie wil kom nie.
Ek onthou lammertjies wat doodgebore word – of perfek gesond, net om ’n jakkals se prooi te word.
Elke keer sou sy so mooi antwoord: “ ’n Mens hoef nie al die antwoorde te hê nie.”
Daar kom tye in ’n mens se lewe dat jy net moet rustig raak en aangaan.
Al het jy nie al die antwoorde nie.
Alles kan nie uitredeneer word nie, alles kan nie ’n kits-antwoord hê nie.
Soms moet jy bloot vrede maak met die feit dat jy gering en klein is; nie in beheer van alle dinge nie.
Dikwels is die antwoord dat jy nie al die antwoorde het nie.

