Tieners het mos ’n manier om hulle soms anders uit te druk as ons grootmense.
Soos bejaardes dikwels weer van ’n vorige geslag af terug praat.
Die mooi daarvan is dat taal ook maar ontwikkel en groei en binne konteks spontaan aangepas word.
Daarom val taalgebruik soms vreemd op ’n mens se oor.
Dikwels, ongeag die geslag waaruit ’n mens kom, gebruik mense slordige taal of onnodig gemengde taal.
Van tyd tot tyd word ’n mens wel gekonfronteer met ’n taalgebruik wat nie jou eie is nie, maar wat skielik sag op jou oor val en ’n bietjie groei op jou.
So beleef ek dit in gesprek met ’n tienermeisie voor ’n moeilike gesprek.
In my vraag oor hoe sy die gesprek gaan hanteer, antwoord sy op ’n vreemde kant-manier van praat: “Opdaag”.
Ek probeer haar verstaan. Haar vermoë om te verduidelik wat sy bedoel, beïndruk my.
Die lewe is nie altyd maklik nie. Jy moet wel opdaag.
Alle gesprekke is nie ewe maklik nie, elke dag ook nie, maar jy moet opdaag.
Jou worstelstryd in sekere goed is nie maklik nie, maar jy moet daar wees.
Jy moet opdaag vir jou lewe, vertel sy. Daar is nie ’n ander manier nie.
Iemand anders kan nie opdaag vir jou taak en jou verantwoordelikheid en jou dinge nie.
Jy moet opdaag waar jy moet wees. Daar waar jy wil en daar waar jy nie wil nie.
Ek hoor haar. Ek hoor haar tienerhart.
Ons moet opdaag, waar ons moet opdaag. Moeilik of maklik.

