Vir my is dit seker een van die moeilikste dinge om reg te kry.

Tog weet ek ek moet dit oefen.

Ek mag dit nie net laat gaan nie.

Dit is die eeue-oue beginsel en waarheid dat jy ander moet behandel soos jy behandel wil word.

Daar is ’n paar redes hoekom die meeste van ons daarmee sukkel.

Een daarvan is dat ons gou onreg na ons toe beleef, maar makliker ’n ander onreg aandoen as wat ons dink.

’n Ander rede hoekom dit so moeilik is, is omdat dit maklik is om te weet wat ons wil hê, terwyl ons minder gereeld dink aan wat vir ’n ander belangrik is.

Dink net: In ’n ideale wêreld sou man en vrou; en ouers en kinders; en werkgewer en werknemer leer om teenoor mekaar op te tree soos hulle self behandel sou wou word.

Dalk sou die wêreld ’n vriendeliker plek wees.

Dalk sou ons dan makliker mekaar in ag neem en ruimte gee.

Dalk sou ons meer genade aan mekaar betoon.

Die wêreld sou dan sagter wees, en daar sou minder seer wees.

Baie van ons lees dalk hierdie woorde en wens dat iemand anders dit kan lees; sonder om te wonder hoe, of te oorweeg dat, dit op onsself van toepassing kan wees.

So, dalk moet ons oefen; dalk moet ons by onsself begin.

Hoe kan ek ’n ander meer behandel soos ek behandel wil word?

Te veel ek en te min van die ander maak die wêreld soms ’n lelike plek.

Bietjie minder jy, bietjie meer van ’n ander.

Daarin lê die oplossing.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article