Dit was opmerklik hier rondom Vadersdag hoe kinders hul pa’s waardeer.
Dit is ook goed en reg so.
’n Pa vervul tog ’n baie belangrike rol in sy kinders se lewe, en hoe wonderlik as pa’s ongeag gebrokenheid en nietigheid dié verskil in hul kinders se lewe maak.
Ouers en kinders deel altyd ’n spesiale verbintenis. Pa, sowel as ma.
Vandag dink ons so ’n bietjie na oor die rol van ’n pa.
Dit is interessant dat kinders nie aanspraak maak op die volmaaktheid van hul ouers, en in dié geval dan van hul pa, nie.
Glad nie.
Inteendeel, kinders het baie begrip vir die gebrokenheid van hul pa – maar liefde is ononderhandelbaar.
Seuns en dogters wil weet hul pa is vir hulle lief.
Onvoorwaardelik.
Interessant dat wanneer ’n pa daardie warmte van ’n nes geskep kry, dit kinders seker maak, sterk maak en laat droom en laat werk vir ’n toekoms.
Wanneer ’n mens met kinders praat, kom ’n mens gou agter hul pa se sukses of gebrek aan sukses is nie vir hulle die belangrikste nie.
Wat vir hulle belangrik is, is dat hul pa onvoorwaardelik lief is en bly.
Kinders wil graag ’n pa hê wat beskerm en toevou, wat versorg en liefhet.
Soos hulle by Ma die warmte soek en die atmosfeer, soek hulle by Pa die omgee en die sekuriteit.
Ons moenie ligtelik dink oor die rol van ’n pa nie.
Sterk vaders verseker sterk samelewings.
En elke pa moet weet hoe heilig is sy taak.

