In ‘n groot mate word jou menswees sigbaar deur dit wat jy lees.
Elkeen van ons het bepaalde voorkeure. Op ‘n manier is die meeste mense lief vir ‘n boek, of boeke.
Al is dit net die Bybel van geslagte wat in jul gesin is, of jou kind se skoolboek of ‘n boek wat in jou ouerhuis gestaan het en mooi onthou na vore bring.
Oor die voordele van boeke en baie lees kan ‘n mens nie klaar praat of klaar skryf nie.
Ek is baie lief vir my boeke; netjies gesorteer, en ek pas hulle mooi op. Daar is boeke oor plekke en stories, oor oorloë en vrede, oor politiek, oor ekonomie – eintlik oor elke onderwerp onder die son.
My gunstelingrak, ná al die jare, bly dié met biografieë. Ek kan daarvan net nie genoeg kry nie. Die stories van mense.
Daar is mense wat niks gehad het nie en met baie oorlede is. Daar is mense wat alles gehad het en alles verloor het.
Daar is gewone mense wat buitengewone dinge gedoen het. Gewone mense van gewone plekke wat gebou en gebou het.
Soldate. Onderwysers. Politici en sportmanne of -vroue. Vermaakkunstenaars. Predikante en families. Gesinne. Ouers oor kinders en kinders oor ouers en studente oor hul leermeesters.
Mense wat nostalgies terugkyk oor hul lewenspad en mense wat bitter geword het in die lewe. Mense wat hul onskuld wil bewys en mense oor wie getuig word van hul geloof en groot liefde.
In kort: Stories van mense getuig oor die uniekheid van menswees. Van die taak wat aan jou opgedra word.
Daar sal nie oor elkeen van ons ‘n boek geskryf word nie, tog is ons elkeen ‘n lewensboek vol hoofstukke en met baie bladsye.
Die belangrikste is dat jou naam sal wees in die boek van die ewige lewe.
Anders sal jou storie maar baie tydelik wees.



