“Alles gaan oor atmosfeer.” Dit is die slotsom waartoe ons kom ná ‘n dag se saampraat en wonder oor die saamstel van ‘n program waarin belangrike inhoud gedeel moet word.
Mense onthou atmosfeer, reageer op atmosfeer en word ingebind deur ‘n positiewe atmosfeer.
Wanneer ‘n mens tussen mense is, wil niemand ontuis voel nie. Wanneer ons in die kerk is, verwag ons ‘n bepaalde atmosfeer. So ook by die bruilofsmaal en so ook by die begrafnis.
Dikwels is daar al verwys na die gedagte dat mense onthou hoe jy hulle laat voel het. Goed of sleg. Positief of negatief. Dit is verseker só.
‘n Vraag wat nou daarby aansluit, is: Watter atmosfeer skep jy of help jy skep?
Ons weet iemand kan in ‘n omgewing inkom en net ‘n reuse-verskil maak aan die atmosfeer wat daar heers − of andersom natuurlik ook. Iemand wat negatief is, kan maklik ‘n hele geselskap of geleentheid omdraai.
Dit geld vir die werksplek, die huis, die vriendekring, die spesiale geleentheid, die sommer net saamwees en wat ook al. ‘n Negatiewe atmosfeer word presies só onthou: negatief. En ‘n positiewe gesindheid word presies so onthou: positief.
‘n Blommetjie in ‘n vertrek maak die atmosfeer vrolik, goeie kos kleur die geleentheid in, vriendelikheid dra oor van een na ‘n ander, en ‘n sagte woord keer grimmigheid af.
Daarom is dit geen geheim nie dat mense maklik plekke, mense en geleenthede met negatiewe konnotasies vermy; en maklik na positiewe plekke, mense en geleenthede gryp.
Die vraag oor atmosfeer wat heers en geskep word, is dus nogal belangrik. Voel jou kinders by jou tuis? Is jou huis warm? Wat is die atmosfeer in ons erediens, in ons vriendekring, in ons kantoor en in ons werksplek?
En watter atmosfeer skep jy of laat jy na? Wil mense by jou wees? Of eerder nie?
Alles gaan oor atmosfeer. Wat is die gevoel en die stemming wat jy los?
- Lees nog rubrieke hier.


