Dikwels gebruik mense so maklik die woordjie “eendag”.

Baie keer juis om drome, verwagtinge of wense uit te druk.

Eendag sal hulle hieraan aandag gee.

Eendag gaan hierdie nog gebeur.

Eendag gaan ons nog dit en dat doen.

Ouma Plaas het graag gesê: “Eendag is ’n lekker dag, maar vandag is ’n beter dag, want eendag kom dalk nooit.”

Sy was reg. Soveel keer wag en hoop ons en werk ons vir ’n eendag.

Daar is eintlik maar twee kante aan hierdie saak: Aan die een kant moet ’n mens nooit ophou droom, bou, glo, hoop en werk aan ’n beter eendag nie. Aan die ander kant moet jy ook nou nie wag tot eendag dalk kom voor jy begin nie.

Waarskynlik is die geheim maar om vandag te begin bou aan die drome van ’n eendag.

As eendag reg uitwerk en ’n werklikheid word; wonderlik en mooi en goed. As eendag nooit kom nie, moet daar by jou geen verwyte kan wees dat jy nie alles in jou vermoë gedoen het om jou eendag-drome wel waar te maak nie.

Eendag-drome kan waar word; eendag-drome kan by jou verbygaan.

En wanneer dit eendag tyd word om terug te kyk, moet jy kan antwoord op die lewe.

As vandag nie vir jou groot en belangrik genoeg is nie, gaan eendag altyd onbereikbaar bly.

Werk vir eendag, maar leef vandag.

Droom oor eendag, maar bou reeds nou.

En as eendag kom, soos jy gedroom het en voor gewerk het, geseënd is jy.

You need to be Logged In to leave a comment.