Dit was een van daardie lewenslesse wat ek by ’n jong seun geleer het, wat my lewe lank my sal bybly.

’n Mens kry sulke lewensveranderende oomblikke of voorvalle wat ’n mens net altyd bybly.

Ek het daardie dag by hierdie jong seun geleer.

Wel, eintlik het hy dit nie as ’n lewensles bedoel nie.

Dit was maar ’n sameloop van omstandighede, maar dit het my aangegryp.

Ek kan met vrymoedigheid sê ek het dit reeds meer as een keer baie doelgerig en suksesvol toegepas.

Hy was ’n landloopatleet oor paaie en gebiede wat soms nie sin gemaak het nie.

Daardie dag het hy verdwaal.

Ons was ’n groepie volwassenes wat bymekaar gestaan het toe hy windverwaai vra: “Help asseblief.”

Trippelend van haastigheid.

Een van die organiseerders het vorentoe getree en het begin met hoe die pad loop en waar hy moet gaan en wat hy moet doen en wat hy moet vermy.

Sy antwoord, mooi en beleefd, maar opreg was: “Dankie, oom, maar nou, wat moet ek nou doen?

“Ek weet nie waar om nou te gaan nie.”

Vir my was dit ’n lewensles.

Ons kan so wys wees, ons kan so baie ver terug of ver voor kyk, maar ons vergeet die heel belangrikste, naamlik: nou.

Waar moet jy nóú gaan.

Dikwels na daardie dag as daar baie dinge op een lysie is, of baie chaos, of baie rigtings, of baie besluite, dink ek terug na daardie dag.

Dan stop ek so ’n bietjie en ek vra: “Nou – waar moet ek nóú begin?”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article