“Dood vra nie ouderdom nie.” Met hierdie woorde lei Oupa Plaas ons gesprek in. Sy manier van praat oor sulke goed is altyd aangrypend.
Gewoon omdat hy realisties, kalm en beredeneerd daarna kyk.
Ons gesels sommer so oor wie al oorlede is, hoe vinnig party mense om ons dood is en hoe swaar ander gekry het voordat hulle dood is.
‘n Mens kom maar elke keer terug na dieselfde punt: Wanneer dit oor dood gaan, is ons almal gelyk in ons nietigheid. Ons ken die uur en die tyd van ons dood nie.
Dood maak seer en is swaar, want ons verlang en worstel daarmee, maar dood herinner ook elke keer weer aan die voorreg van lewe.
My en Oupa se gesprek is juis vir my van waarde as ‘n mens begin dink aan hoe ons dikwels oor die dood dink asof ons dit kan beheer of kan beperk of mag daaroor het. Maar dit is nie so nie.
‘n Mens is maar nietig. En die uur en die ouderdom van jou dood ken jy nie.
Ek dink hierdie week daaraan terwyl my hart seer is oor die dood van oom Hans Moolman.
Hy het ‘n mooi en ‘n vol lewe gehad. Hy kon boer, leef en die vreugde in die lewe geniet.
Ek en hy het mekaar nie baie gesien nie, mekaar ook nie so goed geken nie, maar dit wat ons kon deel, was die voorreg van lewe.
Daarom het hy ook nie geskroom om vir kinders ‘n versorgingsplek na te laat nie. Dit was vir hom belangrik. Dat hulle die voorreg van lewe kan hê, soos hy dit gehad het.
Ons moet ons kinders leer van die lewe en van die dood. En van die feit dat die lewe ons niks skuld nie en dat die lewe van ons almal verbygaan.
Dood vra nie ouderdom nie.
Laat ons dus ‘n verskil maak terwyl ons leef. Vandag. Sommer nou.
- Lees nog rubrieke hier.


