’n Vraag waarmee ’n mens jouself gerus kan besig hou, is die vraag of jy nog met hart doen wat jy doen.

Dit is ’n vraag wat ’n ander nie vir jou kan antwoord nie.

Wanneer ’n mens die hart vir ’n saak verloor, word alles meganies en sonder siel of voel of emosie.

Baie foute wat ’n mens in jou lewe maak is juis dikwels omdat jy hart verloor het.

En dan moet ’n mens een van twee dinge doen: óf die hart weer terugsit waar dit hoort, óf ’n bietjie terugstaan.

Maar sonder met hart iets doen, doen meestal net skade en maak seer. So doen mense dikwels hul werk sonder dat hul hart daarin is, of werksplekke of maatskappye kan hul hart verloor.

’n Mens gaan meganies voort in verhoudings, sonder ’n hart, of bly deel van ’n vriendekring sonder ’n hart. ’n Ander woord om dit te omskryf is sekerlik om met passie iets te doen.

Sodra jy passie verloor, verloor jy produktiwiteit en omgee en dikwels word die doel nie bereik nie. Daarom kan ons maar so ’n bietjie tyd en aandag bestee om te kyk of ons nog met passie besig is waarmee ons besig is. Of ons nog verstaan van roeping van hart.

Wil jy regtig meganies wees en jouself en ander te na kom? Baie skade en seer is al veroorsaak waar hart en passie verloor is.

Loer ’n bietjie na binne om te sien of jy nog met hart leef.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article