Onlangs het ek weer die voorreg gehad om by ’n familiesaamtrek te wees waar ons lekker kon saamkuier.

Dit was kort, maar dit was kosbaar.

Die wêreld waarin ons leef, vra baie van ons en ’n mens moet alewig baie keuses maak.

Die meeste van ons het vol programme en is baie besig.

Dikwels is ons so besig dat ’n mens van daardie spesiale familie van jou slegs een of twee keer ’n jaar sien.

Gedurende die saamkuier het ek het net weer besef hoe lekker dit is om mense te hê wat doodgewoon altyd vir jou lief is.

Jy sien hulle nie elke dag nie en jy gesels nie elke dag nie en soms is die kuier en tyd om mekaar te sien betreklik min.

Maar daardie ou gesegde is tog so waar: Bloed is dikker as water.

Natuurlik is daar uitdagings in families, en beproewings.

Soms is daar jare en jare lank onmin in families.

So moet dit tog nie wees nie.

Familie is te kosbaar.

As ’n mens ’n bietjie moeite kan doen vir jou familie, doen dit maar.

As jy so ’n bietjie kan saamkuier, doen dit maar.

As daar goed is wat jy moet vergewe, doen dit maar.

Jou familie is deel van jou.

Ons gaan dikwels te gering om met die waarde en die vreugde van familie wat vir ons kosbaar is.

Namate die tyd verbygaan, neem ons waar hoe die familie verander.

Almal word ouer, die kinders word groot, die plekkies word leeg, nuwe plekkies word gevul, maar niemand word ooit vergeet nie.

Familie is so kosbaar en spesiaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article