Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

Wanneer die eerste somer-reën so saggies begin val, dan is dit asof mens en dier se binnekant sommer net lig.

In Pretoria is dit asof die jakarandas ekstra pers blom en die strate skoongewas anders lyk.

Die blitse kom nog ver aan, dan begin ‘n mens hoop dit is tyd vir die somer-reën om te val.

En as dit al verby oom Paul se verjaardag van 10 Oktober is, het die ou mense gesê, dan kom die reën op die regte tyd.

Ek onthou hoe ons grootgeword het met Pa wat so ernstig en opreg kon bid dat die reën tog net kan val sodat daar kan uitkoms wees vir mens en dier. En net ná hom sou Ma bid, ook vir mens en dier.

Dit het eintlik maar so ‘n bietjie gaan vassteek in ‘n mens se binnekant; wanneer dit so begin drup, dink ek outomaties, sommerso vanself, aan die uitkoms wat daar is vir mens en dier.

Dit is ná so ‘n lekker bui reën dat pa die huis sal binnestap en sê ‘n mens hoor sommer die gras groei.

Ons het hierdie eerste reëns ook altyd genoem die maer-reën, omdat die skaap eers maer sou word ná hierdie reën voordat hulle vet sou word. Orals in die veld sal die gras uitspruit − en die skaap, nou moeg vir die winter se droë gras, sal hulle moeg en maer loop agter die jong groen grassies aan.

Die feit is, hierdie eerste somer-reën herinner ‘n mens maar net weer aan hoe klein jy is en nietig en afhanklik.

Op die sinkdak klink dit nog mooier. Die geluid van seën, die uitkoms vir mens en dier.

Hoe wonderlik dat dit een ding is waaraan die mens werklik niks kan doen nie. Reën op die regte tyd en dat dit te veel reën en dat die reën wegbly.

Ons is te beperk.

Ons kan maar net dankbaar wees, vir genoeg reën, op die regte tyd.

You need to be Logged In to leave a comment.