Elke deel van elke jaar bring sy eie bekoring en sy eie uitdagings.
So in die middel van November is die dae lekker lank, die son kom baie vroeg op, en op die meeste plekke in die land roep die natuur en die groei daagliks uit: Dit is somer!
Maar dit is ook wanneer ons by hierdie tyd van die jaar kom dat mense begin dink aan Desember, aan die feestyd, aan ’n oomblik ’n bietjie van roetine verander en so ’n bietjie regpak, wegpak, rus en voorberei vir ’n nuwe jaar.
Natuurlik is daar altyd mense wat diens moet verrig, wat werk terwyl ander rus en wat moet deurdruk.
Maar eintlik, in die meeste werksplekke, verander die “seisoen” nou en wil mense klaarmaak waarmee hulle besig is.
Dit is juis nou dat die spanning opbou en ons mekaar moet herinner aan geduld – en aan omgee, aan fokus en vorentoe gaan.
Ons is amper daar.
Dan begin ’n nuwe jaar met nuwe dinge.
Ons moet juis nou waak in ons menseverhoudings, in ons omgee vir mekaar.
Ons moet die geduld behou, fokus en die regte perspektief op dinge bly hou.
In die tyd waarin ons nou beweeg, is mense moeg, raas hulle onnodig met mekaar, is hulle ongeduld groot en is alles dikwels net verkeerd.
Raak rustig.
Ons is amper daar waar die jaar draai en waar weer gewerk word aan nuwe doelwitte.
Moenie nou oorhaastig optree nie en moenie oorhaastig praat nie.
Nou is dit belangrik: Werk hard, fokus, hê geduld, hou kop, bestuur jou moegheid.




