Die afgelope week toe ek in Port Elizabeth van die vliegtuig afklim en die wind so lekker skerp en sterk waai, onthou ek ‘n spesifieke Noord-Kaapse jagtyd in Augustus.
Dit was Augustus, soos nou. Die wind het erg en woes gewaai.
Jare op die plaas het hom geleer hoe om die wind te lees, en daarmee saam te leef. Daar in die Noord-Kaapse wêreld waai die wind ekstra in Augustus.
Dit is goed, verduidelik hy vir my. Die wind moet waai. Die winter moet koud wees, die wind moet waai ná die winter en dan sal die lente-reën goed val en die somervrug reg wees.
Ek onthou nog hoe gaan staan hy en wys na die noorde − as die wind van daar waai, reën dit; hy draai om en wys agtertoe − van daardie kant kom die storms gewoonlik. Tussen die reën en die storms waai die wind dikwels, maar net sy moet-waai-waai. Ons weet nie waarvandaan hy kom nie, ons weet nie waarheen hy gaan nie. Ons sien hom nie kom nie; ons sien wel alles wat hy waai, ons sien die blare, ons sien die windpomp draai, ons sien die rooigrond aankom.
‘n Mens moet lief raak vir die wind, vertel hy my. Die wind herinner ons hoe nietig ons bestaan is.
Ons het daardie dag kilometers geloop terwyl die wind waai. Ons het gesels oor menswees. Oor die lewe. Oor dood. Kort ná daardie dag is hy skielik oorlede. Sy hart het net in die nag gaan staan.
Ons het hom begrawe op ‘n windstil dag. In windstilte het die kis gesak. Ek hoor nog die tannie vir die kinders sê: Ai, ou pa was so lief vir die wind en nou waai hier nie eens ‘n ou windjie nie.
Vandag hier in Port Elizabeth onthou ek ons gesprek, en die wind waai vir my mooi onthou oop.
Lees nog rubrieke hier.


