Hoop is eienaardig.
Dit is nie asof hoop al die antwoorde bring of alles oplos nie. Dit is ook nie asof hoop veronderstel dat alles reg is nie.
Hoop maak net die deur op ’n skrefie oop om te sê alles is nie verby nie.
Alles is nie tot niet nie.
Daar is so baie dinge wat ons hoop steel.
Mense kan ons hoop steel.
Ons kan ons eie hoop steel deur blind te wees vir enige vorm daarvan.
Ons word so maklik moedeloos en magteloos wanneer hoop van ons weggesteel word en ons laat voel asof daar geen toekoms is nie.
Hoop sê vir ons ’n pad lê voor.
Daar is oplossings, al sien jy dit nie nou nie.
Hoop verg soms harde werk en baie liefde. Soms verg dit om oor en oor te begin.
Om by hoop uit te kom moet ’n mens soms jou eie woede neersit; jou eie verontregting, jou eie seer, jou eie magteloosheid laat vaar.
Die besef dat jou hoop nog leef, is magtig. Dit is iets wat jy nooit in jou lewe mag verloor nie.
Ja, soms is die hoop ’n fyn en dun skrefie.
Soms is dit duidelik, maar soms lyk dit onmoontlik.
Tog is hoop eienaardig: Dit gee ons krag, moed en geloof om vorentoe te gaan.
Wat die konteks ook al mag wees: Hou die hoop.

