Wanneer ’n groepie mense bymekaar is, gebeur dit maklik dat een gou begin kla en dit aansteeklik werk in die hele geselskap.

Dit is in só ’n groepie dat ek my bevind toe iemand begin gesels oor ’n voertuiglisensie wat verval het.

’n Ander een vertel van die frustrasie by die polisiekantoor met ’n vuurwapenlisensie en die gesukkel daarmee.

Meer as een in die geselskap kan getuig van ’n bestuurs­lisensie wat verval het en hoe ’n berg dit kan wees.

’n Frustrasie wat aan ons almal bekend is.

’n Lisensieskyfie vir jou motor, ’n vuurwapenlisensie, ’n bestuurslisensie – alles verg tydrowende dinge wat jy moet doen om die wet na te kom.

Dit is juis in die kla en die sug hieroor dat ons die wysheid van die ouer oom in die geselskap nodig het.

Tot nou was hy stil, maar hy draai ons gedagtes en laat ons eintlik skuldig en sleg voel.

Hy vra of ons al daaraan gedink het dat, as jou voertuig se lisensie hernu moet word, dit beteken jy het nog ’n jaar geleef om dit weer self te kan doen.

Jy het nog ’n motor.

Besef ons die hernuwing van ’n vuurwapenlisensie beteken jy leef nog.

Dieselfde met die motorlisensie.

Dit beteken jy wil nog bestuur.

Jy kan nog.

Jy is nog onafhanklik.

Die laaste keer dat hy wou gaan hernu, het hulle vir hom gesê sy sig is te swak.

Hy roep ons tot dankbaarheid.

Soms kla ’n mens te maklik.

In wat soos ’n las lyk, moet ons soms leer dankbaar wees.

You need to be Logged In to leave a comment.