Deur Covid-19 is Ma op 70 jaar betreklik jonk van ons weggeneem.

Uiteraard onthou elke kind sy of haar moeder wat oorlede is, gereeld.

Jy onthou baie algemeen, maar jy dink ook terug aan spesifieke dae van vreugde, van lag, van trane, van deel en van gesprekke.

Hierdie week toe dink ek weer aan ’n gesprek tussen my en Ma.

Daardie dag het dit nie so ’n invloed op my gehad nie. Eintlik was ek maar jonk, en sulke gesprekke gaan by ’n kind verby.

Ons het plat op die stoep gesit en knoffel in sakkies pak.

Een kilogram vir die mense wat net ’n paar soek, twee kilogram vir dié wat ’n bietjie meer soek, en dan natuurlik die tien kilogram wat ons Durban toe gestuur het met die trein.

Ons gesels, terwyl ons pak-pak, oor ’n situasie by die skool.

Sy het ’n manier gehad om so oor haar bril te loer.

Terwyl sy volgens haar gewoonte oor haar bril loer, sê sy: “Dit hang af . . .”

Sy bly so ’n rukkie stil en gaan dan verder: “Dit hang af wat ’n mens oorheers. Dit wat ’n mens oorheers, dit word en is jy.”

Die gesprek draai na dié kant en na daardie kant, maar dit kom telkens terug na hoe spanning ’n mens kan oorheers, of vreugde, bekommernisse, mooi of lelike gedagtes, positiwiteit of negatiwiteit.

Sy sluit daardie dag se opvoeding, as ma, aan my af: “Kies wat jou gedagtes oorheers, want dit word jy.”

Vandag sê ek dankie vir daardie gesprek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article