Ek ry van Petrusburg na Koffiefontein en van Koffiefontein na Luckhoff.
Die paaie is die een gat op die ander.
Onbeskryflik erg.
Die vraag wat hom oor en oor in my kop afspeel, is: Gee niemand dan om nie?
Gee niemand om dat ons land so agteruitgaan nie?
Soos wat ek hier ry, is my hart so seer.
Hierdie is my grootwordpaaie.
Skool toe. Dorp toe.
My hart voel ook sommer so vol gate soos daardie twee paaie.
Ek kan met vrymoedigheid sê dat ek elke meter van hierdie pad ken. Maar ai, wat ek vanaand beleef as ek so kilometer vir kilometer voortkruie, is my jammerte vir hulle wat elke dag hier moet ry.
Ek kry sommer namens ons regering skaam.
Vanaand voel die slegte paaie vir my simbolies van so baie agteruitgang op so baie terreine.
In my grootwordtyd was dit so anders. As hier ’n gat was, is dit gou reggemaak.
Nou kan ’n mens nie ’n enkele sekonde jou oë van die pad afhaal nie.
Gee niemand dan om nie?
Waar is ons regering, waar is ons belastinggeld, waar is ons strukture, waar is ons gemeenskappe?
Wat het verander?
Hierdie gate laat my besef dat ek nog omgee; dat baie mense om my nog omgee.
Ons sal herbou en oorbou – maar wraggies, so gaan ons nie sukkel nie.
Wil ons? Ek wil nog.
Hierdie week gaan ek een gat opvul.
Help my.
So treurig is ons darem regtig nie.