Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

Daar verras klein Annie ons toe op Erfenisdag. Eintlik ook nie heeltemal verras nie, want ons verwag haar al vir die laaste nege maande.

Toe sy wel kom, is ons almal dankbaar dat alles glad verloop het en sy pragtig is.

Ek onthou dit soos gister toe ek vir die Noord-Kaap-mense die goeie nuus kon meedeel dat Laatlam-sus gebore is.

Nou is sy ‘n egte, regte tannie. ‘n Ere-titel wat sy met trots dra.

En onmiddellik is ons sommer almal klaar lief vir klein Annie.

Sy praat nie, sy kuier nie, sy maak nog skaars haar oë op, maar dit voel of sy genoeg is om duisende harte vol te maak.

Haar geboorte is ironies in ‘n week wat ek by die sterfbed van ‘n kanker-ma staan. Iemand wat nog so graag wil lewe, maar wie se lewe menslik gesproke te gou uitgeleef geraak het.

Ook praat ek met ‘n vader vir wie se seun die lewe te moeilik geword het. Die voortdurende wisseling van lewe en dood is om ons heen.

Daarom juis is klein Annie se geboorte net weer vir my ‘n herinnering van die mooi en die goed en die kosbaar van die lewe.

Sy word in ‘n tyd gebore wat die wêreld ‘n malhuis is, kinders in oorloë sterf, mense se kwaad oorloop en mense so hard is op mekaar.

Dan kyk ek na daardie klein bondeltjie genade en ek besef die voorreg van leef en die wonder van ‘n toekoms en volgende geslagte wat gebore word.

Daar is soveel rede om die mooi en die goed en die sag van die lewe te ervaar en te beleef.

Daar is soveel rede om die lelik en die hard en die swart van die lewe te bestry.

Soos Annie, word daar dag vir dag genadebabas ontvang. Hulle verdien ons liefde en ‘n toekoms waarvoor ons werk.

Ons moenie opgee, om hoop agter te laat nie.

Lees nog rubrieke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.