Wanneer iemand ’n mens se vertroue geskend het, is dit vir almal van ons moeilik om dit te herstel.
Ons wil vertrou word en ons wil betroubaar wees, maar ons eis ook maklik vertroue by hulle om ons. Daarom moet ons nooit ligtelik omgaan met hoe seer dit is wanneer ons vertroue skend en verbreek nie.
En ag, ons kan seker rondom dié ding redeneer soos ons wil. Almal van ons is al seergemaak deur mense wat ons vertrou het, en almal van ons het al mense seergemaak deurdat ons onbetroubaar was.
Daarom moet ’n mens diep introspeksie doen as dit gaan om vertroue.
Jy moet kan vertrou, en jy moet vertrou kan word. Vir niemand van ons kom dit natuurlik nie, al sê ons ook so.
Ons hou daarvan om te redeneer dat ons betroubaar is en iemand anders nie. Veel eerder moet ons fokus op hoe seer die breek van vertroue maak. Hoe ernstig intens dit wel is en hoe ’n mens dit herstel.
’n Mens moet ook eerlik genoeg wees om te weet dat as jy iemand met jou onbetroubaarheid te na gekom het, dit gevolge het.
Daarom dra die woord betroubaarheid so ’n mooi betekenis met dit saam.
Waar mense in vertroue met mekaar handel, betroubaar is en ’n mens ’n pad in opregte trou kan loop, is alles net makliker en eenvoudiger.
Daarsonder is ’n mens arm, sukkel enige vorm van verhouding en is bou uiters moeilik.
Laat ons almal daaraan werk om betroubaar te wees.

