Wat gee aan jou lewe sin?

Dit is hierdie vraag waarmee ons ons besig hou wanneer ons so ’n bietjie begin werk aan die beplanning vir ’n nuwe jaar wat voorlê.

Soos met alle goeie beplanning begin ons deur terug te kyk.

Wat het gewerk?

Wat het gesukkel?

Interessant dat die gesprekke spontaan draai na: Wat was die moeite werd?

Ons weet tog almal is uniek, en mense is verskillend en het verskillende beskouings van dinge.

Nogtans is dit insiggewend om op te let dat daar wel ’n lyn is wat mense bind – hulle wil graag iets beteken.

Sommiges vind betekenis in familie en vriende, ander vind dit deur goeie dade en oop hande van gee, en ander vind dit deur liefde te leef.

Ons probeer ons gedagtes bymekaarbring en vra hoe gaan ons ’n nuwe jaar binnegaan.

Die antwoorde wat uitkom, is mooi, maar die samevatting is mooier: Ons moet lewe aan ’n lewe wat sinvol is.

Daarmee kan ons moeite doen.

Namate ons werk, beplan en groot projekte vooruit bedink en hard daaraan werk; terwyl ons baie dinge doen, moet ons dalk meer fokus op wat aan ’n lewe sin gee.

Wat help dit tog jy word oud, het geëet en gedrink en gewerk, maar die waarde van die lewe het by jou verbygegaan?

Daarom: Proe wat jy eet, staan ’n oomblik stil by ’n mooi blom, gee ’n drukkie vir jou kind, luister na die wind, luister ook na stiltes, sien die son opkom of ondergaan, hê lief, wees opreg.

You need to be Logged In to leave a comment.