Sy wil by my weet wat is die rede en doel daarvan dat haar man so met Alzheimers moet stoei.
Ek kan haar nie antwoord nie.
Soms moet ’n mens erken dat daar meer vrae as antwoorde is.
Ons gesels oor alles wat mense in die lewe kan oorkom.
Ons draai by terminale siektes, verhoudings wat nie werk nie, kinders wat jonk sterf, bejaardes wat ly en ly voordat hulle sterf, oor armoede, oor werklikheid.
Dit klink na ’n vreeslike negatiewe gesprek, maar eintlik was dit nie.
Hoe meer ons gesels, hoe meer besef ons hoe beperk die mens is.
Hoe min ons kan verstaan en hoe min ons kan antwoord.
Hoe groot elkeen se pakkie is; hoe klein ons soms voel in oplossings.
Terwyl ons gesels, gebruik sy meer as een keer die woord berusting.
Sy verduidelik dat dit vir haar vrede en rustigheid gebring het.
Nie antwoorde nie, maar wel vrede.
Sy moes kom op ’n punt wat sy net laat gaan, net vertrou, nie te ver vooruit dink nie, maar eerder net berusting vind in haar konteks.
Sy moes leer om te sê sy verstaan nie, maar sy berus.
Sy het nie krag nie, maar sy berus.
Sy het seer, maar sy berus.
Sy stoei in haar gedagtes, maar sy berus.
Laat in haar lewe het sy geleer – in haar konteks, soos elke liewe mens in sy of haar konteks – dat daar ’n tyd kom dat jy gewoon moet berus.
Jy is te klein om die antwoorde op al die vrae te ken.
Berus, aanvaar en gaan vorentoe.


