In die gemeente waar ek grootgeword het, was die oom en die tannie baie jare lank eintlik die steunpilare daar. Harte van goud en hande wat werk.

Sy sou jou met beskuit en melktert oorlaai, en hy was van geaardheid net so dat ‘n mens altyd naby hom wou wees.

‘n Mens kry mos sulke mense. Mense met wie dit net lekker is om te wees. Hy was so en sy het dit lekkerder gemaak.

Die een interessante ding wat hy kon regkry, is om jou baie ure te boei met geselskap sonder om oor mense te praat.

Sodra iemand in die geselskap die inhoud na ander mense verander, sou hy dit weer wegdraai.

Mense begin mos oor mense gesels met sinne soos: “Het jy gehoor dat…” of “Ek hoor hierdie en daardie van…”

Hy sou altyd standaard antwoord: “Ons ken nie ‘n ander mens nie, hê begrip.”

So klein soos ek was, so diep indruk het dit op my gemaak.

Sy gawe of vermoë om nie saam te praat, nie saam te skinder en veral nie te oordeel nie.

Sy uitgangspunt was baie eenvoudig: Ons ken nie ander mense goed genoeg nie. Ons moet hulle uitlos.

Ons doen nie, nè? Ons weet eintlik maar min van mekaar.

Wat weet jy eintlik van die mense oor wie jy so lekker praat?

Eintlik maar niks.

Ek was lank al uit die skool toe ek eendag spesiaal teruggaan om met hom hieroor te gesels.

Ek wou weet hoekom hy dit so goed kon regkry; hoe het hy ander so gerespekteer?

My vrae aan hom was direk.

Sy antwoord was mooi, opreg, eenvoudig: “Van ander weet ek niks, van myself alles.

“Hoe kan ek waag om, ek wat myself so goed ken, ‘n woord oor ‘n ander te kan sê.

“”As jy alles van jouself ken en niks van ‘n ander nie, los ‘n ander uit. Jy ken nie hul lewe nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.