Oumas is vol wysheid. Dit weet ons almal.
Die grootste rede hiervoor is dat hulle al ’n lang pad met die lewe geloop het. Al mooi van die lewe leer ken het en al seerkry moes oorleef.
Daarom luister ons graag wanneer hulle praat. Daarom leer ons ook maklik by hulle.
So vertel iemand nou eendag toe alles net sleg gaan en onderstebo is, en die uitdagings meer as die antwoorde, en die dag maar lank lyk voor, onthou sy hoe ouma sê: “Vandag wen die wêreld my . . . ”
Daar kom sulke dae, dae waarop dit voel of die wêreld wen. Of die laste te veel is en die krag te min. Of die antwoorde te ver is en die vrae te veel.
Sulke dae, dat dit voel of die wêreld wen, moet ’n mens op die punt kan kom dat jy sê: Goed, Wêreld, vandag voel dit of jy wen. Maar jy doen nie.
Daar is altyd mooi, altyd hoop, altyd ’n dag van môre.
Natuurlik voel dit soms of ’n mens deur ’n verskriklike groot golf oorweldig word.
Wanneer dit voel of die wêreld wen, doen iets positiefs, help ’n ander, maak ’n verskil, werk en staan op.
Nooit moet ons toelaat dat die wêreld ons so verslaan dat ons gaan lê nie.
Ons moenie opgee wanneer dit voel of die wêreld wen nie.
Die wêreld wen net as jy dit toelaat.
Oorwin jy die wêreld – werk en heers, leef en bou.

