Ons hou daarvan as iemand vra hoe dit met ons gaan.

En nou verwys ek nie na die kere dat ons in die straat by mekaar verbyloop nie.

Dit is gewoon lekker wanneer iemand opreg en eerlik vra: Hoe gaan dit met jou?

Die welsyn van ’n ander moet vir ons voorop wees.

Dit is lekker as ander vra hoe dit met my gaan, daarom is dit logies dat dit vir ander ook lekker is as ek vra hoe dit met hulle gaan.

Die uitdaging wat ons dikwels ervaar, is dat ons lewe deur ’n tydsdruk ingesluk word wat onbeskryflik is.

Aandag gee aan die welstand van ’n ander gaan so maklik by ons verby.

Te maklik. Terwyl almal van ons dit nodig het.

Ons het nodig dat iemand werklik omgee vir ons binnekant. Ons het nodig dat iemand werklik wil weet hoe dit met ons gaan.

Op ’n stadium in ’n gesprek met ’n bejaarde dame, toe ons oor die ouderdom gesels, sê sy dat sy ’n punt in haar lewe bereik het dat dit vir haar regtig sleg is dat niemand meer wonder oor hoe dit met haar gaan nie.

Sy het egter haar negatiewe uitkyk verander.

Sy het dadelik begin wonder hoe dit met ander gaan wat in haar situasie is.

Dit het haar lewe verander; die oomblik toe sy haar dag begin vol maak met bemoeienis rakende die welstand van ’n ander.

So, staan ’n bietjie stil, vra opreg en stel belang: Hoe gaan dit met ’n ander?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article