Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

Iemand skakel radeloos. Sy worstel met iets verskrikliks. Sy praat amper die hele middag om, alhoewel ek nie eintlik vir haar die antwoord het nie.

Ek wens ek kon haar antwoord. Sy is bekend daarvoor dat sy almal, altyd help. Sonder huiwering.

‘n Mens sou maklik kon sê ‘n gewillige hart en gewillige hande. Maar hier is haar probleem. Dit gaan nie oor fisiese hulp nie, dit gaan nie oor kos aan haar voorsien nie.

Skielik is sy, vanweë konteks, afhanklik van iemand anders. En niemand wil help nie. Sy wat so maklik uit haar pad uit gaan, sy wat so maklik offer, sy wat maklik gee sonder om terug te verwag.

Sy beleef haar nou in ‘n konteks wat sy agterkom hoe selfsugtig is mense. Hulle wil nie. Hulle wil nie verontrief word nie.

Hulle sal nog help as dit maklik is, maar sodra dit ‘n bietjie meer uitdagend word is dit asof sy in ‘n woestyn inroep. Sy wil nie meer in ‘n woestyn inroep nie. Sy is kwaad. Bitter is dalk die beter woord. Sy is bitter omdat almal gehelp wil word, maar niemand wil help nie.

Ek besef ons gesprek gaan nie die wêreld omkeer nie. Sy het nodig om die selfsug van hierdie wêreld uit haar uit te kry.

Sy mag nie dat die lelik van die wêreld haar seer word nie, en sy mag nie dat die seer wat sy ervaar haar ophou laat goed doen nie. Sy moet aanhou help, ongeag.

Ons word nie geleer om op voorwaarde, of wanneer ons goed doen of voel, of wanneer ons baie het tot hulp te wees nie.

Gebruik jou tong, en jou hande tot seën en hulp. En help waar jy kan, sonder om iets terug te verwag. Almal het soms hulp nodig. Dit is jammer dat party maklik help en ander nie graag ‘n ander bystaan nie.

Tot watter groep behoort jy? Help jy of los jy?

You need to be Logged In to leave a comment.