Toe ek haar leer ken het, het sy niks van hom gehou nie.

Sy het immers vir die eer van haar kind opgestaan. Soos ’n mens maar doen.

Hoe sou sy weet dat sy eintlik maar altyd net die een kant van die storie gehad het.

Jare se skade en afstand en nie praat en nie uitsorteer het so onnodig daarop gevolg.

Eers toe daar aan albei kante van die tafel gesit is, elkeen met ’n koppie tee en elkeen bereid om die ander kant te hoor, het daar verandering gekom.

Uitklaring van situasies is so belangrik.

’n Mens kan so maklik draaie en paaie om iemand loop omdat dit makliker is om die kant wat jy van elke storie het te aanvaar, te troetel en vir die waarheid te aanvaar.

Daarom is dit nodig om soms stil te raak en te besef albei kante van alle stories maak altyd saak.

Dit is baie maklik om met een kant, een subjektiewe waarheid, te handel, só oor mense te dink en hulle só te hanteer.

Dit is eers wanneer ’n mens deursigtig na alle kante kyk en luister dat ’n mens besef jou kant is dalk verkeerd.

Jy het dalk net die helfte van die storie beet en jy is dalk iewers gevoer wat iemand wou hê jy moet weet.

As daar een saak is wat ons mekaar ter wille kan wees, is dit om albei kante van alle sake aan te hoor.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article