As daar nou een ding is wat ’n mens nie kan doen nie, is dit instaan vir wat iemand anders dink, glo, doen of sê.
Ja, vir ’n mens self kan jy verantwoordelikheid neem.
Jy moet ook.
Jy moet besin oor jou woorde en jou dade.
Maar vir ’n ander kan jy nie instaan nie.
Nie ’n pa vir ’n ma nie, of ’n ma vir ’n pa nie.
Net so min ’n ouer vir sy kind, of ’n kind vir sy ouers.
Ook ’n broer en ’n suster, ’n vriend of ’n vriendin, ’n kollega of ’n kennis, ’n medegelowige.
So dikwels wil ons skuld verplaas en ander die skuld gee vir ons optrede, of ons woorde, of ons dade.
Jy kan nie.
Jou skuld is jou skuld, jou gevolge is jou gevolge en jou dinge is jou dinge.
Jare gelede op die plaas het die ou skaapboer vir my dit so mooi geleer.
In ’n spesifieke konteks, op ’n spesifieke dag, ná spesifieke gebeure het hy na my gekyk en gesê: “Jy sal nog leer. Die moeilikste vyf woorde om te sê, vir enigeen van ons in hierdie wêreld, is: Dit was my eie skuld.”
Daardie dag het ek nie verstaan nie. Ek was te jonk en onervare.
Ek moes eers die lewe leer ken.
Myself leer ken.
My leefwêreld leer ken.
Eers daarna kon ek hom hoor en begryp en verstaan.
Almal van ons moet eie verantwoordelikheid neem.
Iets is nie altyd ’n ander se skuld nie.

