’n Tweeling aan die Hoërskool Kalahari in Kuruman is as die skool se hoofleiers vir 2024 aangewys.
Beate en Malan Lubbe is volgens hul onderwysers skrander leerlinge wat akademies presteer en op die sportveld uitblink.
Beate word beskryf as ’n doelgerigte en pligsgetroue leerling. Sy speel netbal vir die Griekwas. Malan blink in krieket uit en is in die provinsiale span ingesluit. Op die dag dat hy as hoofseun aangewys is, is hy in die Noord-Kaap-o.19-krieketspan ingesluit.
Die twee word deur Meckayle Mangustu (onderhoofmeisie) en Jaques van Wyk (onderhoofseun) ondersteun. Meckayle blink in akademie, netbal en atletiek uit, terwyl Jaques hom in akademie onderskei en in die skool se eerste rugby- en krieketspan is.
Op die geleentheid op 19 Oktober waarop die skool se leiers aangewys is, is akademiese toppresteerders ook vereer.


