“Sy was ‘n lieflike mens en kon so maklik vriende maak. Altyd opgeruimd en vol grappies wanneer sy tussen haar vriende gekuier het,” vertel Elfreda Eiman (52), ma van Petrochelle Springbok.
Petrochelle (34) is saam met haar vriendin, die 23-jarige Luwina Swartz, in ‘n motorongeluk buite Upington in die Noord-Kaap oorlede.
Op 5 April het die swanger Petrochelle se water gebreek, en moes sy vanaf Sesbrugge na ‘n hospitaal in Upington geneem word. Petrochelle, ‘n enkelouer, was swanger met haar tweede kind.
Sesbrugge, ook bekend as Kalksloot, is 15km vanaf Upington.
‘n Buurvrou, Tiesie Titus (36), ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in Upington, het teen 18:00 vir Petrochelle, Luwina, Maryna Mienies (45) en Sharon Sauls in haar VW Polo Vivo gelaai, om vir Petrochelle by die Dr. Harry Surtie-hospitaal te kry.
In die omgewing van Kameelmond, sowat drie kilometer buite Upington, het die bestuurder glo beheer oor die voertuig verloor, dit het die N14-pad verlaat en in die veld gerol.
Luwina is op die ongelukstoneel dood verklaar en Petrochelle het met haar aankoms in die hospitaal aan haar beserings beswyk. Haar baba het ook nie die ongeluk oorleef nie.
“Ek weet nie wat gebeur het nie. Dit was so skielik,” sê Tiesie.
Volgens haar was die ambulans vroeg reeds van die ongeluk in kennis gestel, en om vir Petrochelle hospitaal toe te neem.
“Hulle en die polisie het eers baie laat by die ongelukstoneel opgedaag,” sê sy.
Tiesie se linkerskouer is in die ongeluk gebreek en Maryna het diep skrape aan haar linkerbeen opgedoen. Daar is ook blou kolle rondom haar oë.
Teen Maandagoggend 14 April was Sharon steeds in die hospitaal met ‘n gebreekte knie.
Luwina was ‘n seisoenwerker op die plaas Lekkerwater waar sy gehelp het met die verpakking van rosyne en druiwe.
“Luwina was ‘n tipiese lewenslustige jongmens, wat die lewe geniet het, ongeag die moeilike uitdagings van die lewe hier by ons,” sê haar 40-jarige ma Cecilia.
“Almal hier weet hoe sy was, respekvol teenoor grootmense, vriendelik, mooi gemanierd en so lieflik met haar mooi glimlag.”
Petrochelle word oorleef deur haar ouers, ‘n vyfjarige dogtertjie, twee susters en ‘n broer. Luwina laat haar ouers, drie susters en vier broers agter.
Die twee vriendinne is Saterdag saam vanuit die Rooms Katolieke kerk in Sesbrugge ter ruste gelê.







