Die twee dogters van wyle Dan (83) en Breggie (74) Brand, en susters van wyle Elzabie Brand (54), wat op 26 Julie 2020 in hul huis buite Hartswater ontvoer en vermoor is, het die eerste twee weke van die verhoor van die betrokke aangeklaagdes bygewoon om antwoorde te kry.
Heidi Taljaard van Kaapstad en Trudie de Beer van Potchefstroom sê hulle het die hofsitting bygewoon vir hul ouers en suster se onthalwe. Hulle wil sterk wees vir hul ouers, wat ook sterk mense in die lewe was.
Die beskuldigdes is Donald Seoleseng (21), Tshepo Visagie (36), Kgomotso Mpulwana (43) en Tsepaone Melato (20), wat deur aanklagte van moord en ontvoering in die gesig gestaar word. Hulle word ook van regsverydeling aangekla omdat hulle die lyke in Taung versteek het om die moord te verdoesel. Seoleseng word ook van ontsnapping aangekla.
Die staat voer aan die aangeklaagdes het die Brands van hul perseel in Mogogong in Hartswater ontvoer en vermoor. Verskeie van hul besittings en twee motors, ’n rooi Nissan Micra en ’n silwer Mazda CX 5, is ook gesteel.
Realeboga Manyedi (21), ’n staatsgetuie teen wie al die aanklagte vroeër teruggetrek is, het heel week getuig. Visagie het hom die betrokke Sondag laatmiddag gebel en gevra om te help om bloed uit die Mazda se bagasiebak naby ’n nedersetting in Taung te was.
Manyedi het later gehelp om Elzabie se liggaam elders in ’n veld onder takke te versteek, ’n ent weg van haar pa se lyk. Daardie nag het hulle die Nissan na ’n ander plek verskuif en Breggie se lyk in ’n grot versteek. Die polisie het die beskuldigdes later die aand op die pad in die Mazda voorgekeer en in hegtenis geneem.
Taljaard sê die ondersteuning van vriende en familie, asook die gemeenskap, is ongelooflik.
“Almal se gebede beteken vir ons baie. Om in ’n hof te sit en hierdie getuienis aan te hoor is iets wat ek niemand toewens nie. Dit is die laaste plek waar ek en my sussie wil wees. Maar ons is nou hier en moet dit hanteer, al is dit hoe erg en hoe swaar. Ek sukkel daarmee.
“Ons sal op die hofbanke sit totdat ons die antwoorde het, totdat hulle skuldig bevind word.”
Volgens haar het die polisie en die aanklaer hulle op die hofprosesse voorberei.
De Beer sê sy en haar suster praat daagliks met mekaar.
“Saam is ons sterker – ons sal saam in die hof sit om antwoorde op ons vrae te vind. Ons moet aangaan met die lewe en kan nie stilstaan nie, want dit is wat ons ouers van ons sou verwag het. Dié gedagte hou my aan die gang.
“Hulle was sterk mense. Dit is nie maklik nie, want die kleinste goed herinner my aan hulle, soos iemand wat ’n hoed dra soos my pa het. Dan besef ek ek kan hulle nie meer bel en gesels nie. Dan dink ek weer aan hul laaste ure…”
Daar was nog nie getuienis gelewer oor wat die Sondagmiddag by die huis gebeur het nie.
“Dit is moeilik om hier te sit en na die beskuldigdes te kyk. Die mense wat ons mense na bewering weggevat het. Hoewel ons nie berading gekry het nie, beteken die ondersteuning van die familie, vriende en gemeenskap baie. In oomblikke wanneer ek dalk terneergedruk voel, sal iemand ’n boodskap van ondersteuning stuur. Dit is van onskatbare waarde, want hulle herinner ons ons is nie alleen nie.”
Vroeër in die verhoor het hul oudste broer, Danie Brand, wat 12 jaar gelede in ’n motorongeluk oorlede is, se kinders, Dan Brand en Monique Prinsloo, hulle in die hofsaal onderskraag.
Taljaard se man, Wikus, was aan haar sy.
Johan Kloppers van AfriForum het kussings vir die harde hofbanke, asook eetgoed, verskaf.


